Isaac Pennington, ’n leier van die Kwakers gedurende die 17de eeu, het gesê: “Die Here het my geleer om van Hom te lewe – nie vir iets wat ek van Hom kan ontvang nie, maar op sy lewe alleen.” Die mense in Johannes 6 wou van Jesus lewe, maar nie om dieselfde rede nie, inteendeel, dit was nie omdat hulle harte aan Hom getrou was nie, maar omdat hulle gedink het aan wat Hy vir hulle kon gee – naamlik brood en vryheid van die Romeinse oorheersing. Die feit dat Jesus hulle daar teen die berg van brood en vis voorsien het, het hulle laat dink aan wat Hy alles vir hulle kon doen. Jesus het geweet wat hulle dink en dat hulle Hom as ’n ander soort koning sien, en daarom het Hy van hulle weggegaan (Joh. 6:14,15). Die volgende dag het hulle Hom gesoek en Hom weer gevind (vs. 22,25,26) en Hom aanhou volg vir dit wat Hy aan hulle kon voorsien. Maar toe het Jesus die situasie omgekeer en aan hulle verduidelik dat Hy die Brood van die lewe is (Joh. 6:32,33). Hulle wou ’n beter aardse lewe van Hom ontvang, maar toe verduidelik Hy dat Hy gekom het om hulle die ewige lewe te gee (vs. 40). Slegs diegene wat in Jesus glo, kan ware vervulling en vrede vind – nou en vir altyd. Volg Jesus nie net omdat Hy aan jou brood gee en in jou lewensbehoeftes voorsien nie, maar omdat Hy die innerlike honger kan stil – die verlange na ewige gemeenskap met Hom. –