’n Ou TV program het ’n sentrum vertoon wat skynbaar gereeld deur die kliënte besoek is. Die gedagte was dat dit ’n plek sou wees waar almal welkom was en mekaar se name geken het. Ons wil almal so graag aanvaar word en iewers inpas. Tog is daar diegene wat op die grenslyne van die lewe ’n bestaan voer en dit is soms vir hulle baie moeilik om tuis en welkom te voel. Hulle verlang so om vir iemand anders kosbaar te wees. Veral kinders ondervind dikwels hierdie gevoel: Party voel hulle is te lank – waar ander nog nie begin rek het nie. Party voel hulle is te vet, wanneer hulle maats slank en maer is. Ander weer voel hulle is te slim terwyl hulle klasmaats nog sukkel. Dan is daar diegene wat voel hulle is “nie intelligent genoeg nie” in vergelyking met ander. Kinders wat anders as die ander is, word dikwels geterg of afgeknou. Maar ’n volwassene wat nie by die groep inpas nie en geïgnoreer word, voel dikwels dat hy of sy onsigbaar is. Maar hoe belangrik is ons tog in God se oë! Ons was vir Hom so kosbaar dat Hy sy Seun gestuur het om die prys vir ons te betaal, sodat ons in ’n verhouding met Hom kan staan. Ons is na die beeld van God geskape (Gen. 1:27). Hy het ons gevorm en is betrokke in elke aspek van ons lewe, selfs nog voordat ons gebore is (Ps. 139:1-16). Óf ons nou altyd waardevol voel of nie, ons hemelse Vader het ons baie lief. –