Ek kan nog goed onthou hoe moeilik dit destyds was, wanneer ons as familie met vakansie gegaan het, met die kinders agter in die motor. Die vreugde is bederf deur die gestry agterin en die klagtes wat gedurig opgegaan het. Wie onthou nie die ontstellende gekla: “Pa sy het my gestamp!” of “Ma, hy wil my nie ’n beurt gee nie.” Indien jy al daardie ondervinding gehad het, kan jy jou goed voorstel hoe die Here moet voel wanneer ons, sy kinders, gedurig kla. Dis vir Hom belangrik dat sy kinders met mekaar oor die weg kom. Daarom het Jesus gebid dat ons “een” sou wees, sodat die wêreld sou glo dat Hy van die Vader af gekom het (Joh. 17:20-21). En aan sy dissipels, wat maar te geneig was om te stry, het Hy beveel om mekaar lief te hê en te dien ( Joh. 13:34-35; Matt. 20:20-28). Ons moet ook daarop let dat onder die sewe dinge wat God haat, die volgende is: “Iemand wat rusie stook tussen broers” (Spreuke 6:19). Daarom verbaas dit my nie dat die psalmdigter sê dat wanneer broers eensgesind saamwoon, dit vir die Here is soos “reukolie wat van die kop af in die baard afloop, die baard van Aäron” (Psalm 133:1,2). In antieke tye was die olie waarmee persone gesalf is, baie geurig en het dit die hele omgewing deurtrek. Mag die eenheid wat van ons liefde kom, ook soos kosbare reukolie wees wat ons families, kerke en gemeenskappe deurtrek.