’n Tyd gelede het ek ’n dagstukkie vir Ons Daaglikse Brood geskrywe waarin ek vertel het van ’n jong dame wat ek in ’n winkelsentrum gesien het. Sy het ’n T-hempie waarop die woorde Love is for Losers aangehad, en ek het opgemerk wat ’n treurige boodskap dit uitdra. Tot my verbasing het een van ons lesers die situasie anders geinterpreteer. Sy het ’n nota aan my gestuur waarin sy vertel dat haar dogter en haar vriende wat tennisspelers is, almal hempies met daardie woorde op, dra. In tennis is ’n love telling, zero. Indien jou telling in ’n spel love is, beteken dit jy het niks nie, en dan verloor jy. Met ander woorde in tennis is love regtig vir verloorders. Daardie briefie het my ’n nuwe perspektief op daardie woorde gegee. Hierdie gebeure het my laat besef hoe maklik dit is om verkeerde indrukke te kry. En dit lei tot verkeerde oordele. Indien ons onakkurate inligting kry, kan ons verkeerde afleidings maak en mense en situasies verkeerd beoordeel. En dit kan baie hartseer veroorsaak. Toe Jesus met mense gepraat het wat Hom verkeerd beoordeel het, het Hy gewaarsku: “Moenie op die oog af oordeel nie, oordeel regverdig” (Joh. 7:24). Ons moet seker maak dat ons oordele op korrekte inligting (die waarheid) berus, en dat ons die regte houding openbaar (die deernis van Christus). Probeer hierdie slagspreuk: “Regverdige oordeel is vir wenners.”