Aan die Stille Oseaan kus van NoordAmerika is daar reuse Redwood bome. Die hoogste op rekord, Hyperion, reik tot meer as 100 meter in die lug. Gedurende ’n besoek wat ek aan Kalifornië se Muir Woods nasionale Park gebring het, was ek regtig oorweldig deur die reusagtigheid van hierdie bome. Bome so hoog soos ’n gebou van 30 verdiepings het my bitter klein laat voel en my as ’t ware op die aarde neergedruk, terwyl my gedagtes hemelwaarts gestyg het. Die herinneringe aan wat ek aan die voet van hierdie reuse bome gevoel en beleef het, het my opnuut weer laat dink aan waar hulle vandaan kom en Wie hulle gemaak het. Hierdie bome, soos die stamboom van ons eie oorsprong, is geanker in die Skepper, Hy wat oneindig groter en magtiger is as enigiets wat Hy geskape het. Die profeet Jesaja het ’n blik op hierdie God gekry. In ’n visioen wat hy gesien het, ’n visioen wat praat van die Messiaanse koninkryk en die beloftes van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde, beskrywe hy dié Een wat die hemele sy troon maak en die aarde die voetbank vir sy voete (Jesaja 66:1). Maar Jesaja het iets meer gesien, iets oorweldigends. Hy het die grote God gesien, Hy wat wil hê dat sy kinders “vreugde sal hê” (Jesaja 65:18) in dit wat Hy geskep het. Laat ons dan voor Hom neerbuig en Hom in nederigheid aanbid (Jesaja 66:2), want Hy is waardig.