In sommige huise het inwoners ’n veilige kamer gebou – ’n vertrek waar hulle skuiling kan vind in geval van inbrake en stormweer. In Spreuke 18 vers 10 herinner Salomo God se volk daaraan dat die Here vir hulle ’n “veilige vesting” is, die plek waar hulle skuiling kan vind in geval van gevaar. In Hom kan hulle volkome sekuriteit vind. In verse 10 en11 beskryf hy twee tipes sekuriteit waarheen mense hulle toevlug neem, naamlik die naam van die Here en rykdom. Die naam en karakter van God word as ’n “sterk vesting” beskryf. Net soos ’n stad wat ingeneem word ’n toring het waarheen inwoners kan vlug, so kan die regverdiges hulle toevlug tot God neem en volkome veiligheid by Hom vind. Aan die ander kant het die rykes hulle verbeel dat hulle rykdom aan hulle veiligheid en sekuriteit sou bied. Maar Salomo verduidelik aan sy lesers dat geld wel ’n gevoel van veiligheid gee, maar dis ’n valse sekuriteit wat aanleiding gee tot luiheid, hoogmoed en vernietiging. Diegene wat nederig is daarenteen, kan hulle volkome sekuriteit in die onveranderlike karakter van God vind. Daar sal hulle ware vrede vind. Miskien is finansies nie regtig jou “kamer van veiligheid” nie. Dalk hardloop jy na iets of iemand anders wanneer probleme kom. Maar ons moet almal leer om volkome op die Here te vertrou en ons veiligheid in sy kosbare Naam te vind.