As kind het ek ’n moeilike Engelse woord antidisestablishmentarianism aangeleer. Voorwaar ’n mondvol! Onlangs het ek die betekenis opgekyk. Die woordeboek sê dis die “politieke houding wat die terugtrekking van staatserkenning van ’n gevestigde kerk opponeer”. Nie ek of my skoolmaats het geweet wat dit beteken nie, maar deur die woord te gebruik het ek belangrik gevoel, soos iemand wat kennis besit. Toe Paulus egter met mense gepraat het, het hy nie probeer om hulle met sy woorde te beïndruk nie. In sy brief aan die Korintiërs skryf hy: “Toe ek na julle toe gekom het om die geheimnisvolle waarheid van God aan julle te verkondig, het ek nie met hoë woorde of groot geleerdheid gekom nie” (1 Kor. 2:1). Die Griekse term wat met “hoë woorde” vertaal is, beteken dat daar nie met hoogdrawenheid gepraat is nie. Met ander woorde, Paulus het nie woorde gebruik om homself te verhoog nie, maar om lering aan ander te gee. Hy was ’n briljante geleerde en het die diep waarhede van God vir ander weergegee. Nogtans het hy nie hoë woorde gebruik om homself te verhoog en sy kennis te beklemtoon nie. Namate ons groei en toeneem in kennis van God se Woord, laat ons Paulus se voorbeeld navolg en waak teen die ydele gebruik van woorde wat eintlik onsself verheerlik. Laat ons die regte woorde kies wat ander mense opbou en bemoedig en nie ons eie eer soek nie.