Op die ingewing van die oomblik het ek ’n rooi ballon in ’n kruidenierswinkel gekoop. Op die ballon het die woorde Ek is lief vir jou in groot letters gepryk. Terwyl ek my inkopies in die motor gelaai het, het die toutjie van die ballon uit my hande gegly en ek moes toekyk hoe die ballon die lug in sweef. Gou-gou was daar net ’n rooi kolletjie in die verte – en toe net ’n herinnering. Toe ek die ballon verloor het, het ek daaraan gedink hoe liefde soms uit die lewe van mense verdwyn. Kinders rebelleer en draai van hulle ouers af weg, huweliksmaats is skielik nie meer lief vir mekaar nie, en nabye vriende hou net op om te skakel. Daarom is ek so dankbaar dat God se liefde standvastig is. Dit kan ons onderskraag as aardse liefdes afneem. Om die waarheid te sê, dis so betroubaar dat Jesus ons nooi om in sy liefde te bly (Joh. 15:9). Hy wil hê ons moet weet dis veilig om in sy liefde te rus. Ons kan altyd in God se liefde bly, want niks “dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of … .enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie” (Rom. 8:38). As ons ons vertroue in Christus plaas en Hom as Verlosser aanneem, is God se liefde vir ons ewig gewaarborg. Voel jy asof jy moes toesien hoe liefde uit jou lewe verdwyn? Rus dan in God se liefde – sy voortdurende sorg sal jou veilig hou.