Ten spyte van my beste pogings om duidelik te skryf, word ek soms misverstaan. Ek voel sleg daaroor en probeer my bes om my vaardighede te verbeter. Nogtans gebeur dit soms dat lesers dit wat ek geskryf het uit konteks neem en iets daarin lees wat glad nie met die oorspronklike bedoeling ooreenstem nie. Dis baie frustrerend, want daar is geen manier om te kontroleer hoe mense die woorde interpreteer nadat hulle gepubliseer is nie. Dit laat my aan ’n baie ernstiger oortreding dink – die misbruik van die woorde van God. Die profete gedurende Jeremia se leeftyd was hieraan skuldig. Hulle het hulle eie woorde in God se mond geplaas en beweer dat Hy dinge gesê het wat Hy nooit gesê het nie. Daarom het die Here aan die volk gesê: “Julle moenie luister na wat die profete sê nie … hulle wek vals verwagtings by julle, hulle praat oor visoene wat hulle self uitdink, nie oor wat die Here sê nie” (Jer. 23:16). Hy het die volk ook gewaarsku dat Hy diegene wat sy woorde verdraai, sou verlaat (Jer. 23:36,39). In kontras hiermee het Paulus duidelik verklaar dat hy nie die woord van die Here vervals nie en nie met bedrog te werk gaan nie (2 Kor. 4:2). Hy was bewus van die gevaar om sy eie idees te verkondig in plaas van God se woord. Dis vir ons almal baie belangrik om te let op wat ons sê. Ons mag nie die Bybel vir ons eie agenda gebruik nie.