My dokter is ’n ongelowige en eendag toe ek by hom was, het ek gesê hy behoort dankbaar te wees dat God ons geskep het. Hy het ’n spuitnaald in sy hand gehad en toe wonder ek. Moet ek nie miskien liewer stilbly nie. Maar ek vervolg toe: “Indien die ewolusieproses nog aan die gang is, sal jy mos nie weet presies waar jy die naalde moet insteek nie.” Hy vra toe: “Glo jy regtig in God?” “Ja, beslis” het ek geantwoord. “Kyk net hoe wonderlik het Hy ons geskep.” Ek was besonder dankbaar vir die geleentheid om teenoor my dokter te getuig. In vandag se Skrifgedeelte beveel Paulus vir Timoteus om mense na die Verlosser heen te wys. “Verkondig die woord,” (2 Timoteus 4:2) is egter nie net vir predikers bedoel nie. Die woord preek beteken om “iets bekend te maak.” God se kinders kan dit doen terwyl hulle saam ’n koppie koffie drink of by die skool met maats gesels. Ons kan die goeie nuus van dit wat God vir ons gedoen het, op enige plek en enige tyd bekendmaak teenoor enigeen wat graag wil hoor en soekende is. Ons kan hulle vertel dat God ons liefhet, dat Hy alles van ons weet, ons pyn, hartseer, gebreke en tekortkominge. Deur die dood en opstanding van Jesus het God die sondebande wat ons knel, verbreek en elkeen wat wil, kan die hart oopmaak vir Jesus om in te kom. Laat ons nie huiwer om dit wat die Here vir ons gedoen het, bekend te maak nie.