Gedurende ’n wedren in 1930 is die jokkie, Johnny Longden, tussen twee perde vasgedruk. Perde het van agter af aangejaag gekom en Johnny het sywaarts van sy perd afgegly. ’n Ander jokkie, wat sy probleem opgemerk het, het desperaat probeer om Longden op sy perd terug te stoot. Ongelukkig het hy te hard gestoot en toe het Longden byna aan die teenoorgestelde kant afgeval. Maar nog ’n ander jokkie wat gesien het wat gaande is, het hom vasgegryp en op sy perd teruggedruk. En die wonder van alles is – Longden het uiteindelik die wedren gewen! ’n Plaaslike koerant het dit die “uiterste onmoontlikheid” genoem. Helpende hande het hom nie net teen ernstige beserings en moontlike dood beskerm nie, maar hom ook gehelp om die wedren te wen. As gelowiges behoort ons ook ’n helpende hand na ander uit te reik. Ons lees in Spreuke 31 van ’n “knap vrou” wat “’n oop hand [het] vir die armes, sy is vrygewig teenoor die behoeftiges” (Spreuke 31:20). Vir eeue lank het die deernis en liefde van hierdie vrou mense bemoedig en was sy ’n inspirasie vir manne sowel as vroue. Sy herinner ons daaraan dat om na ander uit te reik ’n Bybelse deug is en dat alle gelowiges dit behoort te openbaar. Daar is baie mense wat sukkel en wat deur moeilike tye gaan en ons hulp nodig het. Wie is daar in jou lewe wat ’n helpende hand verlang? Is jy bereid om hulp te verleen?