Wat is die eerste beeld wat jy sien wanneer jy jou rekenaar aanskakel? Miskien is dit ’n familiefoto of ’n spesiale vakansiefoto. Of dalk is dit jou geliefkoosde sportman of vrou? Het jy al ooit daaraan gedink om ’n beeld van Jesus daar te plaas? ’n Man het lank gelede aan my geskryf oor sy geweldige stryd teen pornografie. Dit was ’n ontmoedigende stryd wat gewissel het tussen oorwinning en nederlae. Telkens het hy weer teruggeval in die leë wêreld van seksuele wanpraktyke. Toe, uiteindelik het hy ’n sigbare verwysing na Jesus op sy skerm geplaas en dit het hom gehelp om ’n blywende oorwinning oor pornografie te verkry. Die voortdurende herinnering aan die Een wat hom bevry het, het hom gehelp om die verslawing aan pornografiese webwerwe te oorwin. Die man het nie van een of ander magiese gelukbringer gebruik gemaak nie, maar hy het homself eenvoudig net herinner aan wat Paulus in Kolossense 3 sê: “Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak … onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is” (Kol. 3:5). As ons die oë op Jesus vestig, herinner Hy ons daaraan dat ons gesterf het en dat ons lewe “saam met Christus verborge [is] in God” (Kolossense 3:3). Óf dit nou ’n teksvers is wat aan jou motor vasgeheg is, of ’n foto op jou rekenaarskerm, kies ’n tasbare iets wat jou sal help om op Jesus te fokus.