Waarom sal sommige bome se blare gedurende herfs allerhande pragtige kleure vertoon – rooi, oranje en geel? Gedurende die somer is die blare van bome groen omdat chlorofil, ’n groen pigment in die blare, rooi en blou lig van die son absorbeer. Die lig wat dan van die blare gereflekteer word, lyk vir ons oë asof dit groen is. Chlorofil is egter ’n baie onstabiele stof en helder sonlig kan dit baie gou laat ontbind. Daarom moet plante dit voortdurend sintetiseer en herskep. Maar die verkorte dae en die koel nagte gedurende herfsmaande, meng in wat hierdie proses betref. Namate die chlorofil afbreek, begin die groen kleur van die blare verander. Sommige bome verander van helder groen na helder geel namate die chlorofil afneem. In ander, waar daar suiker in die blare teenwoordig is, word ’n helderrooi pigment gevorm en dit veroorsaak dat die blare pers of helderrooi word namate chlorofil afneem. Maar waarom het ons al hierdie pragtige kleure? Dit lyk skynbaar asof dit geen doel dien nie – ten minste nie wat wetenskaplikes kan vasstel nie. En waarom het ons foto-ontvangers in ons oë wat dit vir ons moontlik maak om dit te sien? Ek glo dat dit die goedheid van God is. Hy “is vir almal goed en barmhartig oor alles wat Hy geskep het” (Psalm 145:9). Hy het die wêreld so kleurvol gemaak ter wille van ons. Dis net soos Hy is.