’n Paar jaar gelede het my man ’n groepie hoërskoolstudente op ’n sendinguitreik na ’n landelike gemeenskap geneem, om herstelwerk te doen. Ongelukkig het Tom kort tevore sy voet gebreek en moes hy die werk vanuit ’n rolstoel beheer. Hy was teleurgesteld dat hy nie in staat was om rond te beweeg soos hy beplan het nie. Terwyl hy op die grondvloer van die gebou besig was, was ’n groepie dogters op die derde verdieping met verfwerk besig. Hy kon hoor hoe hulle sing en die Here prys. Hulle stemme het helder en duidelik tot hom deurgekom en deur hulle liedere het hulle hom geestelik bedien en versterk. “Dit was die pragtigste musiek wat ek nog ooit gehoor het,” het hy later aan my gesê. “Dit het my geestelik versterk en opgebou.” Ons lees in Kolossense 3: “Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing” (vs. 16). Daardie dogters het nie net tot eer van God gesing nie, maar hulle was ook besig om ’n medegelowige geestelik te versterk en op te bou. Wat jy ook al vandag doen, doen dit met blydskap en met ’n gesindheid van lofprysing. Óf julle deur sang óf deur geestelike gesprekke kommunikeer, laat julle blydskap in die Here vir almal duidelik word. Julle sal nooit weet vir wie julle bemoedig nie. –