Omdat ek nie ’n baie handige persoon is nie, moes ek onlangs ’n vriend wat baie handig en bekwaam is inroep om ’n paar herstelwerke in my huis te doen. Hy het gekom en ek het hom my lysie gegee. Tot my verbasing het hy gesê dat ek die herstelwerk self sou doen! Hy het my gewys hoe om dit te doen en die hele tyd by my gebly, totdat ek al die herstelwerk self afgehandel het. Hierdie optrede klink vir my baie soos dit wat Jesus met sy dissipels gedoen het. Toe Jesus daardie manne geroep het om Hom te volg, was dit sy begeerte dat hulle by Hom moes bly en die goeie nuus van die koninkryk van God moes uitdra (Markus 1:14,39; 6:12). Hulle moes onder die onmiddelike toesig van Jesus werk – deur sy woorde leer sodat hulle die Skrifte kon interpreteer en voortdurend sy optrede dophou. Tweedens het Jesus hulle aangestel om by Hom te bly ”sodat Hy hulle kon uitstuur om te preek” (Markus 3:14-15). Hulle moes sê wat Hy gesê het en doen wat Hy doen. En terwyl hulle al hierdie take afgehandel het, moes hulle steeds op Jesus alleen vertrou. Vandag nog roep Jesus sy volgelinge tot hierdie kragtige taak van dissipelskap. Hulle moet by Hom bly, sy bevele navolg en sy voorbeeld naleef. Hoe is dit met jou gesteld? Is jy een van diegene wat naby aan Jesus lewe, jou oog op Hom hou en Hom in alles navolg? Is jy waarlik een van sy dissipels?