Die volk Israel het van God afgedwaal en God wou aan Hosea toon hoe diep dit Hom seergemaak het. Gevolglik lees ons in die eerste paar hoofstukke van Hosea ’n vreemde, bisarre verhaal. God het die profeet beveel om met ’n prostituut, Gomer, te trou. Hosea word vir ons uitgebeeld as die getroue eggenoot van die ontroue huweliksmaat en gevolglik het Hosea dieselfde pyn deurgemaak as wat Israel se afvalligheid vir die Here veroorsaak het. Teen die einde van sy boek maak Hosea dit duidelik dat die lewende God, ten spyte van die pyn wat Israel Hom aangedoen het, steeds belowe om hulle te vergewe indien hulle na Hom terugkeer. “Ek sal hulle ontrou genees. Ek sal hulle van harte liefhê … dié wat voorheen by die Libanon gewoon het, sal terugkom” (Hosea 14:5,8). Diegene wat vanuit afvalligheid en sonde weer na die Here toe terugkeer, word dikwels deur skuldgevoelens en onvergenoegdheid geteister. Die ware gelowige wat in sonde geval het, weet diep binnekant dat geestelike ontrouheid aan God altyd ’n prys kos . Maar net soos die genadige God aan Israel vergifnis en herstel gebied het, so belowe Hy dit vandag ook vir elkeen wat opreg berou het en skuld bely (1 Johannes 1:9). Het jy verkeerde keuses uitgeoefen wat jou van God laat afdwaal het? Kom na Hom toe, bely en weet, Hy sal vergewe en jou herstel.