Wanneer ons aan die wonder van die skepping dink en hoe God die ganse heelal deur sy woorde tot stand gebring het, dan dink ons gewoonlik aan die Ou Testamentiese weergawe van die skepping. Maar dis bemoedigend om na die Nuwe Testament te kyk en te sien hoedat hierdie deel ook na die skepping verwys. Kom ons bekyk ’n aantal sleuteltekste: “Ek sal bekend maak wat geheim gebly het van die skepping af” (Matteus 13:35). God openbaar dinge aan ons wat Hy sedert die skepping geheim gehou het. “Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei,” (Matteus 25:34). Voordat die wêreld geskep is, het God elkeen van ons reeds geken – en Hy ken ook ons toekoms. “So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees” (Efesiërs 1:4). Voordat die skeppingswerk nog begin is, was God reeds bewus van elkeen wat ’n kind van Hom sou word. Hierdie Nuwe Testamentiese tekste is vir ons ’n versekering dat God ons ken en sy ewige geheimenisse aangaande elkeen van ons wys ons heen na die skepping soos in Genesis 1 beskrywe. Ons kan niks anders doen nie, as om maar net neer te buig voor Hom wat so almagtig is en wie se skeppingsvermoë so oorweldigend is. Voorwaar – die skepping volgens die Nuwe Testament is net nog ’n rede om God te prys!