In die Nuwe Testament word gasvryheid as ’n kenmerk van die Christelike lewe beskryf. Dit word beskryf as ’n eienskap van geestelike leiers (1 Tim. 3:2; Tit.1:8) en elke gelowige word opgeroep om dit te beoefen as ’n uitdrukking van broederlike liefde (Rom.12:13; 1 Pet. 4:9). Maar die betekenis van gasvryheid omvat meer as net om ’n goeie gasheer te wees en jou huis vir ander oop te stel. Die Griekse woord wat met gasvryheid vertaal is, beteken “liefde vir vreemdelinge.” Wanneer Paulus in Romeine 12:13 sê: “Wees gasvry sonder om te kla” roep hy ons op om verhoudinge te bou met mense wat in nood verkeer. En dis nie altyd maklik nie. Die skrywer, Henri Nouwen, sien gasvryheid as ’n uitreiking na mense wat ons op die lewenspad ontmoet – miskien vreemdelinge, mense wat van hulle land, familie en kultuur geskei is en selfs van God vervreemd geraak het. Hy skryf: “Gasvryheid beteken om in die eerste plek ruimte te skep vir vreemdelinge waar hulle vriendskap kan ondervind en ’n vriend kan word in plaas van om ’n vyand te wees. Gasvryheid beteken nie om mense te verander nie, maar om die ruimte te skep waarin hulle verander kan word.” Óf ons in ’n huis woon, óf ’n koshuis, ’n tronksel óf selfs in ’n militêre barak, kom ons verwelkom ander en betoon so die liefde van Christus. Gasvryheid is om ruimte te skep vir diegene wat nood het.