Mense dwarsdeur die wêreld is bekend met Mount Rushmore, die terrein in Suid-Dakota waar die koppe van vorige Amerikaanse presidente op reusagtige skaal teen die hange uitgrafeer is. Terwyl miljoene mense weet van Mount Rushmore is daar baie min wat nog ooit die naam van Doane Robinson gehoor het. Hy was ’n historikus in Suid-Dakota en dit was hy wat die idee gekry het om hierdie besondere beeldhouwerk te laat doen en die projek vir lank beheer het. Die beeldhouwerk word bewonder, maar Robinson is vergeet en min mense weet eers van hom. Somtyds gebeur dit ook met ons as Christene. Ons voel dat ons vergeet word en dat niemand aandag gee aan dit wat ons doen nie. Die Christelike bediening kan dikwels iets wees wat nie waardeer word nie, veral ook nie deur die persone aan wie die weldade bewys word nie. Dit kan soms ’n ondankbare taak wees. Maar die goeie nuus is dat alhoewel mense nie ons opofferinge waardeer nie, God weet dit wel. Die Bybel sê: “God is nie onregverdig nie: Hy sal julle werk nie vergeet nie en ook nie die liefde wat julle vir sy Naam betoon het deurdat julle julle medegelowiges gedien het en nog dien nie” (Hebreërs 6:10). Wat ’n ongelooflike belofte! Ons hemelse Vader sal nooit dit wat ons vir Hom en in sy Naam doen, vergeet nie. Dis baie belangriker as om deur die skares geprys te word. Kom ons volhard in sy diens.