In my kantoor hang ’n Sertifikaat van Egtheid, wat vir my kosbaar is. Op die sertifikaat is die logo van die VSA se Ruimtependeltuig, Vlug 110, aangebring. Daardie pendeltuig is in April 2002 gelanseer. Rex Walheim, ’n sending- spesialis, was aan boord van daardie vlug en hy het ’n artikel van “Ons Daaglikse Brood” getitel “Om God se grootheid te sien” saamgeneem. Luitenant Kolonel Walheim het na hulle terugkeer die bladsy aan my teruggestuur, tesame met die sertifikaat, wat bevestig dat daardie bladsy wel die aarde se atmosfeer verlaat het. Somtyds het ons dokumente nodig wat die bewys lewer dat iets eg is. Indien ek daardie artikel aan iemand sou toon en sê dit het ’n ruimtereis meegemaak, mag daardie persoon my woorde betwyfel, want ek kan dit nie bewys nie. Maar noudat Walheim aan my die Sertifikaat van Egtheid gestuur het, kan ek dit bewys. In 1 Petrus het Simon Petrus ook ’n Sertifikaat van Egtheid geskep om die waarheid van God se genade te bevestig. Hy skryf in hoofstuk 5: “Ek het geskrywe om julle te bemoedig en julle te verseker dat hierdie dinge die ware genade van God is“(vs. 12). Petrus wou sy lesers verseker dat die baie boodskappe en temas van 1 Petrus – temas van hoop en moed en selfs lyding – outentiek is en alles na die genade van God heenwys. Soek jy bewyse vir God se genade? Lees 1 Petrus en glo dat dit waar is.