Ek het in die Midweste van Amerika opgegroei en is gereeld aangegryp deur die natuurlike dierelewe en plantegroei van ons omgewing. Onlangs het ek ’n besoek aan die kusstreke van Kalifornië gebring en ek moet erken dat ek in ademlose verwondering gestaan het by die aanskoue van die robbe, blaffende seeleeus en die bosryke gebiede. Ek het gesien hoe pelikane deur die lug seil en walvisse wat in die verte baljaar. Al hierdie dinge is maar net ’n voorbeeld van die miljoene spesies wat in die natuur verteenwoordig is. Volgens die Bybel is die verskeidenheid van die natuurlike wêreld nie net daar om ons verwondering op te wek nie. Nee, die geheime van die natuur kan ons help om dié God, wat onuitspreeklike en onverklaarbare lyding toelaat, te verstaan en as God te aanvaar. Dink byvoorbeeld aan Job. Terwyl hy so bitterlik gely het, was hy nie bewus van die feit dat God soveel van hom dink dat hy Satan toegelaat het om hom op die proef te stel nie. Sy geloof is getoets deur al die verliese wat hy gely het. Die slotsom waartoe gekom word, is dit: ’n Skepper wat die wysheid en krag het om die wondere van die natuur te beheer, is groot genoeg om met ons lyding vertrou te word, al kan ons nie verstaan nie. In nederige aanbidding het Job gesê: “Nou weet ek dat U tot alles in staat is” (42:2). Ons kan daardie God vertrou, ongeag wat met ons gebeur.