Een aand, na aandete, het ’n klein, bruin mossie deur die voordeur gevlieg en ons huis binnegekom. ’n Jagtog het gevolg. Elke keer wanneer my man naby gekom het, het die voëltjie weggefladder en desperaat na ’n uitgang gesoek. Voordat ons die voëltjie eindelik na buite kon help, het die mossie die hele huis deurkruis en ons kon sien hoe die hartjie benoud klop. Ons is ook somtyds soos daardie klein voëltjie – angstig, gespanne en bang vir wat die volgende oomblik mag gebeur. Dit is egter vir my die troos dat nie een mossie op die grond sal val “sonder die wil van … [die] Vader nie” (Matt. 10:29). “Die Here sien oral” (Spreuke 15:3). Daar is niks wat sy aandag ontgaan nie, ook nie ek en jy nie. God verstaan en waardeer alles wat op ons betrekking het. Jesus sê: “Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel” (Matteus 10:30). Dis nogal verbasend om te dink dat God alles van ons weet, al ons persoonlike dinge, ja en dat Hy selfs van ’n voëltjie se teenspoed bewus is. Aangesien Hy al hierdie dinge weet kan ons Hom vertrou, ook wat groot en belangrike sake aanbetref. Wanneer ons tot Hom nader en hulp vra, kan ons gerus wees dat Hy op hoogte van sake is en elke omstandigheid ken. Daarom kan ons Hom vertrou en hoef ons nie bevrees te wees nie. Hy is in beheer. Hy wat vir die mossie sorg, sal ook vir my en jou voorsien.