Blaai deur enige koerant en die hoofberigte vertel jou wat fout is met die wêreld. Kyk na televisie, gesels met jou vriende en jy sal ontdek dat daar nie ’n tekort aan opinies is ten opsigte van wat in die wêreld fout is nie. Dis omdat dit so maklik is om die verkeerde uit te wys. Toe terroriste passasiersvliegtuie gekaap het, een in die Pentagon vasgejaag het, twee ander in twee wolkekrabbers in New York vasgevlieg het en die vierde een in die veld naby Pensylvanië laat neerstort het, het die wêreld gesê dis boosheid. Die vernietigende mag van hierdie aanslag het mense moedeloos en uitgelewer laat voel. En dis wat die bose doen. Dit laat ons magteloos voel. Maar ons is nie. Die meeste van ons ondervind bose aanslae op ’n kleiner skaal. Paulus het vir ons uitgestippel wat ons reaksie moet wees. Ons moet “verafsku wat sleg is” (Rom. 12:9), nie “kwaad met kwaad vergeld nie” (Rom. 12:17) en ons moet ons nie “deur die kwaad laat oorwin nie” (Rom.12:21). Die ware slagoffer van die bose is goedheid – die goedheid wat God vir sy kinders bedoel het (Gen. 1:4-31). Dis nogal verbasend dat Paulus tot die gevolgtrekking kom dat die slagoffer van die bose in werklikheid die oorwinnaar is (Rom. 12:21). Die bose word altyd in hoofberigte uitbasuin, maar God se goedheid is sterker. Hy wil hê ons moet dit gebruik om sy vyand te oorwin.