Een sonnige Sondagoggend na kerk, het ek ’n entjie in die omgewing gaan stap. ’n Man was besig om sy grasperk langs die sypaadjie te sny en ons het mekaar met die gewone “Hallo, hoe gaan dit?” gegroet. Op baie negatiewe wyse het hy geantwoord: “Maar net nog ’n Sondag!” Later het ek gewonder wat hy daarby bedoel het. Het hy eintlik gesê: Ek doen maar net my dagtaak … doen wat ek moet doen? Somtyds kan selfs kerkgang net ’n leë ritueel word. Dis maar net nog ’n Sondag. Vir die gelowiges in die eerste kerk (Handelinge 2:41-47) was dit egter nie die geval nie. Vir hulle was die byeenkoms met ander gelowiges iets besonders. Dit was toe die kerk begin het en almal nog nuwe gelowiges was en daarom was die byeenkoms vir hulle belangrik. Hulle was almal entoesiasties en wou God van harte dien. Maar wat van ons? Wat kan ons vandag doen om elke erediens iets baie spesiaals te maak? Gaan kerk toe met die verwagting om God te ontmoet. Alhoewel Hy altyd by ons is, is dit tog waar dat Hy op besondere wyse teenwoordig is wanneer ons saam met ander wat Hom ook ken, vergader (Matteus 18:20, Jakobus 4:8). Bring jou probleme en dankbaarheid na Hom toe. Gaan kerk toe om meer van God te leer. Ons mag miskien nie elke week iets nuuts leer nie, maar ons word altyd bemoedig en versterk deur die waarhede in God’s Woord (Psalm 119:105). Verwag om van Hom te hoor. Gaan met die verwagting om met ander Christene te verkeer. Ons het mekaar nodig op hierdie lewensreis. Bemoedig ander, daag hulle uit om God nog beter te dien en bid vir hulle (Hebreërs 10:24-25). O Here, gee ons ’n nuwe entoesiasme en verlange om eredienste by te woon sodat dit nie net ’nog ’n Sondag’ sal wees nie.