Gedurende 2008 het die VSA se Hooggeregshof die kwessie van vuil taal in oënskou geneem. Die Federale Kommissie van Kommunikasie het ’n uitsaaistasie aangevat oor twee godslasterlike uitsprake wat oor die sender gemaak is. Die uitsaaistasie het aangevoer dat ’n godslasterlike uitspraak wat nie blatant seksueel is nie, nie gestraf behoort te word nie. Ander mense het egter aangevoer dat ons kinders teen sulke suggestiewe en vuil opmerkings beskerm moet word. Die kwessie van ongeskikte taalgebruik was nie ’n saak waaroor in die gemeente van Efese geredeneer is nie. Paulus het die gelowiges ingelig dat een manier waarop hulle op die seëninge van verlossing in Christus kon reageer, was deur oor hulle taalgebruik te waak (Efesiërs 4:29). Paulus wou nie gehad het dat hulle nog op hulle ou lewenswyse sou voortgaan nie, ’n leefwyse gekenmerk deur korrupte en vuil taal, vloeke, kwaadpratery, skinder en enigiets anders wat ander mense kon skaad en onenigheid tussen mense kon veroorsaak. In plaas daarvan was dit sy verlange dat die Efesiërs deur hulle woorde “hulle hoorders ten goede [moes] kom” soos wat dit nodig mag wees. As volgelinge van Jesus Christus is dit ons verlange dat die woorde wat uit ons harte en oor ons lippe kom, lewegewende woorde moet wees. Ons wil hê dat diegene wat ons woorde hoor, daardeur geseën mag word.