As gevolg van die feit dat sekere volwasse kinders nie hulle verpligtinge teenoor hulle bejaarde ouers nakom nie, is die ouers genoodsaak om hulp by staats– en liefdadigheidsorganisasies te soek. Terwyl hy oor hierdie saak gepraat het, het ’n regeringsamptenaar opgemerk: “Ons kan nie liefde deur wetgewing afdwing nie.” In die Bybel egter word ons beveel om mekaar lief te hê. Moses het aan die volk Israel gesê: “Wat ek jou vandag beveel, is om die Here jou God lief te hê” (Deut. 30:16 OV). En Jesus het gesê die grootste van alle gebooie is:”Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart” (Markus 12:30). Hoe kan die Here ons beveel om lief te hê? Omdat Hy aan die kruis van Golgota getoon het wat liefde is. Jesus se geliefde dissipel, Johannes, skryf: “Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê … En dit is sy gebod: Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo en ons moet mekaar liefhê ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het” (1 Johannes 3:16,23). Watter geleenthede het jy om hierdie gebod van die Here te gehoorsaam? Deur jou ouers te eer en vir hulle te sorg. Deur met liefde en deernis na ’n siek vriend uit te reik. Deur ’n liefdeswoord teenoor iemand wat moeilik is, uit te spreek, iemand wat ’n mens nie maklik kan liefhê nie. Here Jesus, omdat U u Lewe vir ons afgelê het, help ons om mekaar lief te hê.