Gedurende ’n konferensie vir kerkleiers wat by die Seattle Pacific universiteit gehou is, het die bekende pastoor Earl Palmer vertel van ’n gebeurtenis wat ’n magtige invloed op sy prediking en lering vir byna 50 jaar gehad het. Terwyl hy student was en ’n Bybelstudie gelei het, het hy die deelnemers aangemoedig om die Bybelteks en sekere woorde uit die Bybel noukeurig te ondersoek. “Ek was oortuig dat as ek iemand sover kon kry om die teks noukeurig te lees, sou die teks mettertyd hulle aandag en respek verkry en hulle heenwys na die lewende middelpunt – Jesus Christus. En wanneer Jesus eers jou respek en agting verkry het, dan is jy nie meer baie ver van geloof af nie.” Jesus het ’n groep geestelike leiers van sy tyd, wat goed met die Ou Testament bekend was, maar Hom hewiglik geopponeer het, so aangespreek: “Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry. En dit is juis die Skrif wat oor My getuig. Tog wil julle nie na My toe kom, sodat julle die lewe kan kry nie” (Johannes 5:39-40). Dit vereis ’n geopende hart sowel as ’n soekende verstand om die Bybel regtig te kan bestudeer. Wanneer ons ontdek dat Jesus die Persoon is na Wie die hele Bybel heenwys, dan moet ons besluit hoe ons op Hom gaan reageer. Daar is groot vreugde beskore vir elkeen wat hulle hart vir Christus oopmaak en die lewe in Hom vind.