Ons wêreld is besig om al hoe luidrugtiger te word. Maar die nuusberigte dui aan dat ’n metode gevind is waardeur absolute stilte verkry kan word. “Wetenskaplikes het die bloudruk vir ’n ‘akoestiese kleed’ getoon, wat voorwerpe glo onvatbaar vir klankgolwe sal maak. Die tegnologie word in die nuwe Journal of Physics uiteengesit en sal gebruik kan word om klankdigte woonhuise, konsertsale en oorlogskepe te bou.” Soms wanneer ons ’n stil plekkie soek waar ons alleen met die Here kan verkeer, wens ons byna dat ons ’n ‘akoestiese kleed’ het wat ons kan help. Maar al sou ons alle uiterlike geluide kon stilmaak, sal die innerlike onrus nog in ons gedagtes teenwoordig wees. Ons word aangesê om te “bedaar en erken dat Ek God is” (Psalm 46:11), maar hoe op aarde doen ons dit? Hoe kan ons ons harte in praktiese terme rustig en kalm maak? God verstaan ons dilemma en het sy eie ‘akoestiese kleed’ voorsien. Dit vra dat ons ons bekommernisse aan Hom oorgee sodat ons sy vrede kan ontvang.”Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus” (Filip. 4:6-7). Indien ons al ons bekommernisse in God se hande plaas, ontvang ons die stilte wat net Hy kan gee.