Die ou pad vanaf Jerusalem na Jerigo is ’n nou en gevaarlike pad wat langs ’n steil bergpas in die Judese wildernis kronkel. Dis bekend as Wadi Kelt, maar dit staan ook bekend as die “vallei van skaduwees”, want dit is hierdie gebied wat die inspirasie vir Dawid se 23ste Psalm was. Die omgewing self bied weinig rede vir die skryf van so ’n bemoedigende psalm. Die landskap is vaal, dor en baie gevaarlik. Dis ’n goeie plek vir diewe, maar vir niemand anders nie. Toe Dawid geskryf het, “selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie” (Psalm 23:4), was hy op ’n plek waar gevaar ’n absolute realiteit was. Nogtans het hy geweier om aan sy vrees toe te gee. Hy het nie die hoop uitgespreek dat God die gevaar sou verwyder nie, maar dat die teenwoordigheid van God hom sou toerus om deur die gevare heen te gaan en nie te vrees dat die Here hom sou verlaat nie. In ’n ander Psalm sê Dawid: “Want U, Here, is my hoop, op U, Here, het ek van jongs af vertrou” (Psalm 71:5). Baie mense beweer dat hulle hoop het, maar slegs diegene wie se hoop op Christus gebou is, kan sekerheid hê. Hoop kom nie van ons eie krag, intelligensie of goeie omstandighede nie, maar van die Here. As die Skepper van die hemel en die aarde is Hy die enigste Een wat die belofte van hoop kan gee, want Hy alleen het die mag om daardie belofte na te kom.