Terwyl Ken Burns besig was om sy treffende dokumentêre film oor die Tweede Wêreldoorlog te maak, het hy en sy kollegas vir ure militêre inligting bestudeer en na films gekyk. Tonele van die verskriklike slag van Peleliu het snags in ontstellende drome aan hulle verskyn. Burns het later aan Rick Kushman van die Sacramento Bee, gesê: “Jy luister as ’t ware na die spoke en eggo’s van die ontstellende verlede en stel jouself bloot aan ’n emosionele omwenteling.” Daar’s ’n prys te betaal indien jy by die worstelinge van ander betrokke wil raak, of dit nou is om kunswerk te lewer óf om geestelik hulp te verleen. Paulus het dit ondervind. “Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes. As iemand swak is, voel ek asof ek self ook swak is; as iemand in sonde val, voel ek asof ek ook deur die vuur gaan” (2 Korintiërs 11:28,29). Oswald Chambers het gesê dat wanneer ons hierdie geestelike worsteling binnegaan “vereenselwig ons onsself met God se belangstelling in ander mense en dan vind ons tot ons verbasing dat ons die krag het om gebalanseerd te bly te midde van dit alles.” Paulus het besef dat God se krag in ons swakheid volbring word (2 Korintiërs 12:9). Jesus het die hoogste prys betaal om in die wêreld betrokke te raak en Hy gee ook aan ons die krag wanneer ons sy liefde met ander deel.