Daar was ’n tyd toe ’n sekere stad aan die weskus van Amerika erg teen die evangelie gekant was. Plakkate wat heksery adverteer en allerhande onchristelike byeenkomste propageer, het oral in koffiewinkels verskyn. Vir die kerke was dit ’n baie moeilike situasie en hulle het gesukkel om toestemming van die stadsraad te kry vir die oprigting van geboue en ander sake. Daar was ’n negatiewe gees onder kerkleiers. Maar toe begin ’n klompie van hulle gereeld bid en hulle besluit toe om die liefde van Jesus die stad in te dra. Hulle het ’n bediening vir haweloses en vigslyers begin en tieners wat die pad byster geraak het, begin help. Op ’n getroue en liefdevolle wyse het hulle die liefde van Jesus aan die stadsmense gebring. Kort voor lank het organisasies in die stad by die kerke om hulp aangeklop en wat nog meer is, die kerke het begin groei namate Christene op die roepstem reageer het. En dit bewys vir ons ’n baie belangrike punt. In ’n sekere sin moet ons eers “sigbaar word” voordat ons praat. Niemand wil eintlik hoor wat ons oor die liefde van Jesus sê voordat hulle dit nie eers in die praktyk gesien het nie (Matteus 5:16). Dan sal selfs die teenstanders van die evangelie miskien dankbaar wees dat julle in hulle stad, kantoor of omgewing betrokke is en dan is dit baie moontlik dat jy die geleentheid sal kry om met hulle oor Jesus te praat.