Ek wonder soms waarom die Here nie die volgorde van die Tien Gebooie omgekeer het nie, want die 10de gebod hou verband met die eerste groot sonde, naamlik om te begeer. Eva se sonde was nie net dat sy lus was vir die vrugte nie, maar dat sy soos God wou wees, want dis wat Satan belowe het (Genesis 3:5). Eva se begerigheid het haar daartoe gelei om sowel die eerste as die tiende gebod, wat God jare later aan Moses gegee het, te oortree. Indien ons nie begeer nie, skakel ons min of meer alle redes uit waarom ons God se gebooie moet oortree. As ons iets wil hê wat nie ons s’n is nie, steel ons, vertel ons leuens, pleeg ons owerspel, moord en lê ons valse getuienis af – ja en dit lei daartoe dat ons ongehoorsaam aan ons ouers is. Ons weier om ’n rusdag te neem want ons kan nie alles wat ons wil doen, in ses dae doen nie. Ons onteer God se Naam wanneer ons dit gebruik om iets te regverdig wat ons wil doen en maak afgode van ons rykdom, want ons wil nie al ons vertroue net op die Here plaas nie. Ek sukkel om sondes te vind wat nie indirek aan gierigheid gekoppel is nie. En tog, omdat dit laaste op die lys is, dink ons dis minder belangrik as die ander gebooie. Maar dit is nie. As ons die sonde kortvat terwyl dit nog in ons gedagtes is, kan ons verhinder dat ons ander die slagoffers van ons sondes maak. So sal ons baie gevolge van sondes kan vermy.