Amerika het ’n spesiale Gedenkdag Memorial Day. Op dié dag dink hulle aan diegene wat in diens van die land gesterf het. Die plek in die VSA waar die herinneringe veral baie emosionele betekenis het, is die Arlington Nasionale Begraafplaas naby Washinton D. C. Daar vind deesdae ongeveer 25 militêre begrafnisse per dag plaas, veral weens die afsterwe van bejaarde veterane en die voortslepende konflikte wêreldwyd. Hierdie situasie is baie traumaties, veral vir die Old Guard, lede van die 3de VSA Infanterie regiment, wat by Arlington diens doen. Dis hulle taak om die liggame van die oorledenes te dra en eer aan hulle te betoon. Die lede van hierdie Old Guard kan nooit vergeet wat die koste vir vryheid is nie, want hulle word elke dag weer daaraan herinner. Gelowiges in ons Here Jesus het die Nagmaal ontvang as ’n manier om ons te herinner aan wat ons verlossing van sonde Jesus gekos het. Wanneer ons die kelkie en die brood in die hand neem, voer ons sy opdrag uit, want Hy het gesê ons moet dit “tot My gedagtenis” (1 Korintiërs 11:24) doen. Maar alhoewel die gebruik van die Nagmaal aan Jesus se dood herinner, is daar tog wonderlike vreugde daaraan verbonde en ons hoef nie ons blydskap by die Nagmaal daar agter te laat nie. Deur ons lewens aan die Here toe te wy en tot sy eer te lewe, kan ons aan die wêreld toon dat ons sy offer vir ons waardeer.