’n Spreuk uit Afrika lui soos volg: “Die persoon wat vrae stel, sal nie verdwaal nie.” Daardie idee kan behulpsaam wees as ons sekere van Dawid se vrae in die Psalms bekyk. Hy was duidelik op soek na God se wil vir die weg wat hy moes volg. Kom ons bekyk sekere van die vrae wat hy gestel het: “Hoe lank nog, Here?” (Psalm 6:4). Hy is gretig om te weet wanneer God se plan uitgevoer sal word. “Wat is die mens dan, dat U aan hom dink?” (Psalm 8:5). ’n Uitroep van verbasing en verwondering om te dink dat God vir die mens omgee. “Waarom trek U U terug in tye van nood?” (Psalm 10:1). ’n Vraag wat dui op sy verlange na God se teenwoordigheid. “Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here? Wie mag op u heilige berg vertoef?” (Psalm 15:1). Die belangrike vraag ten opsigte van wie by die Here mag woon en in sy teenwoordigheid verkeer. Dawid het nogal moeilike vrae aan God gestel. Hy het ontdek wat gebeur as ’n mens jou pad verloor, God uitsluit en die pad van sonde bewandel. Maar toe hy sy Psalms neergeskryf het, was hy ’n man wat op soek was na die regte pad, om ’n godsalige lewe te lei. Daarom het hy moeilike vrae gestel. Vrae? Net soos Dawid het jy beslis ook vrae wat jy aan God wil stel. Hou aan vra. Dan, deur geloof in God se Woord en die influisteringe van die Gees, luister as Hy die pad aandui en volg daardie pad.