Die tegnologie van vandag maak dit moontlik vir mense om 24/7 te werk. Ons kan ons werk huis toe neem, dit saamneem as ons met vakansie gaan en dis altyd by ons, behalwe wanneer die krag afgaan. Verlede winter het ’n sneeustorm verskillende state van die VSA met ’n dik glanslaag bedek. Bome en takke het omgeval en paaie bedek met die gevolg dat inwoners tuis moes bly. Kragdrade is afgesny en gevolglik was almal in koue duisternis gehul, en nie in staat om iets te doen wat elektrisiteit vereis het nie. Wanneer so iets gebeur, kom ek dadelik agter hoe dit my lewenswyse verander en dan besef ek hoe belangrik my werk vir my is. Sonder dit voel ek onproduktief en waardeloos, asof ek niks beteken nie. Maar die Here wil nie hê dat ons werk vir ons so belangrik moet wees nie, en ons behoort nie ’n kragonderbreking nodig te hê om tot stilstand te kom nie. In die Ou Testament het God ’n plan gehad om die volk tot stilstand te bring sodat hulle aandag aan Hom kon skenk. Dit is die Sabbat genoem. Op die sewende dag van die week moes die mense rus en nie werk nie (Eksodus 23:12). Alhoewel Nuwe Testamentiese gelowiges nie deur hierdie gebod gebind is nie, is dit tog ’n belangrike riglyn vir ons. Om ’n dag te rus sal ons help om te besef dat God belangriker as ons werk is. Wat is nodig om jou tot stilstand te bring sodat jy aandag aan God kan gee?