Terwyl ek en’n vriend langs die pad gestap het, waar die Berlynse Muur eens gestaan het, het hy gesê: “Dis een van daardie ‘moet nooit sê nooit’ plekke in my lewe.” Hy verduidelik toe hoe hy gedurende die jare toe die muur die stad verdeel het, dikwels deur Checkpoint Charlie gegaan het, om lidmate van die kerk, wat onder moeilike omstandighede in Oos-Duitsland gelewe het, te gaan bemoedig. By meer as een geleentheid is hy aangehou, ondervra en deur die grenswagte geteister en getraumatiseer. Gedurende 1988 het hy sy kinders na die muur toe geneem, dit aan hulle gewys en gesê: “Kyk baie goed na hierdie muur, want eendag sal julle julle kinders hierheen bring en dan sal die muur nog staan.” ’n Jaar later was die muur egter weg. Toe Saulus van Tarsus begin het met die vervolging van die Christene, sou niemand ooit kon dink dat hy ’n dissipel van Jesus Christus sou word nie. “Nooit nie! Dis onmoontlik!” Tog vertel Handelinge 9:1-9 van Saul se dramatiese bekering op die pad na Damaskus. Binne ’n paar dae na daardie dramatiese lewensveranderende gebeure, was hy besig om in die sinagoges van Damaskus te verkondig dat Jesus die Christus is, tot groot verbasing van almal wat hom aangehoor het (Handelinge 9:20,21). Wanneer dit gaan oor God se werk, selfs met die moeilikste mense, moet ons nooit “nooit” sê nie. By God is alle dinge moontlik.