In sy boodskap in 2002 aan die graduandi van die Cedarville Universiteit, het dr. Paul Dixon hulle met dié woorde bemoedig: “Onthou, julle tye is in God se hande.” Ons as familie was teenwoordig en het gedink dis ’n gepaste woord vir die graduandi. Ons dogter Julie, was een van hulle. Ons het egter geen idee gehad dat ons 17 jarige dogter, Melissa, vyf dae later in ’n motorongeluk sou sterwe en sou gradueer om hemel toe te gaan nie. Daardie gebeure het ons opnuut laat terugdink aan die boodskap van Psalm 31:15. Deur die jare het ons begin agterkom dat God in sy alwyse en misterieuse almag vir sekere Christene ’n kort lewe op aarde beplan het. Ek dink aan ’n jong Christendogter wat ’n seer vinger gehad het en ’n week later dood is aan ’n verskriklike ontsteking. Of die jong meisie wat sagtebal gespeel het en dood is toe ’n bal haar teen die nek getref het. Of die tienderjarige seun wat Jesus so liefgehad het en graag visgevang het – onderweg huis toe, na ’n visvanguitstappie, is hy deur ’n motor getref en op slag dood. Ja, Melissa, Heather, Maggie en Thomas het gedurende hulle paar jaar op aarde ’n wonderlike nalatenskap nagelaat – een van liefde vir Jesus en ander mense. Hulle was gereed toe hulle tyd gekom het. “Ek vertrou op U,” was die digter se woorde. Hy het geweet sy lewe is in God se hande. Vertrou jy die Here vir wat ook al mag gebeur?