Gedurende 1935 het die debatspan van ’n klein en onbekende swart skool in Texas, onverwags die blanke kampioenspan van die Universiteit van SuidKalifornië verslaan. Dit was in der waarheid ’n klassieke voorbeeld van die onbekende wat oor die nasionale reus, triomfeer. Toe die destydse Israel bedreig is deur die Filistyne, was daar ’n jong seun, Dawid, wat oor die Filistynse reus getriomfeer het (1 Samuel 17). Die twee leërmagte was aan die twee kante van die vallei van Elah opgestel. Hulle was waarskynlik bang vir mekaar en besluit toe dat die uitslag van die geveg bepaal sou word deur twee kampioenvegters. Die Filistyne het Goliat gehad, ’n reus van ’n man (byna 2 meter), maar die Israeliete het niemand gehad wat hom wou aandurf nie. Dawid het gehoor van die probleem en het Saul gevra om hom die geleentheid te gee om teen die Filistyn te veg (verse 32-37). Saul was huiwerig, maar het eindelik toegestem. Dawid, bewapen met sy slingervel en 5 gladde klippies, en sy geloof in die almagtige God, het die Filistyn aangedurf. En ons weet dat hy Goliat verslaan het (vs. 40-45). Almal van ons kom in situasies te lande waar dit voel asof ’n reus teenoor ons opgestel is. Ons is bekommerd, bang, bewus van sonde en skuld. Maar al is ons swak en gebuk onder sonde, kan ons ook die oorwinning behaal as ons op ons almagtige God vertrou.