Toe ek in Singapore opgegroei het, kan ek nog onthou hoedat van my vriende deur hulle ouers uit die huis geskop is, omdat hulle dit durf waag het om in Jesus Christus te glo. Hulle het gely ter wille van hulle geloof, maar het as sterker persone na vore gekom. In kontras met hulle, het ek in ’n Christenhuis opgegroei, maar ek moes ook die Christelike waarhede my eie maak. Die Israeliete wat aanvanklik die Beloofde land ingegaan het saam met Josua, het die magtige dade van God gesien en waarlik geglo (Rigters 2:7). Maar, tragies om te sê, net die volgende geslag “het nie die Here geken nie. Hulle het ook nie geweet van die groot dade wat Hy gedoen het nie” (vs. 10). Gevolglik was dit nie lank nie, of hulle het van die Here weggedraai en ander gode begin aanbid (Rigters 2:12). Hulle het nie die geloof van hulle ouers hulle eie gemaak nie. Geen geslag kan lewe op grond van die geloof van vorige geslagte nie. Elke geslag moet self die ware geloof aanvaar. Wanneer probleme opduik sal diegene, wie nie ’n persoonlike geloof het nie, gewoonlik afdwaal en struikel. Diegene wat tweede, derde of vierde geslag Christene is, het ’n wonderlike erfenis. Maar daar is nie ’n “tweedehandse geloof” nie. Vind uit wat die Here in sy Woord sê en maak seker dat dit waar is van jou. Elkeen van ons moet ’n “eerstehandse geloof” hê (Josua 1:8). Is dit waar van jou?