Sommige oggende wanneer ek werk toe gaan, sê my vrou: “Moenie vergeet nie …” En later in die dag sal sy my skakel en vra: “Het jy vergeet?” Ons het almal die neiging om te vergeet. Ek dink dis die rede waarom die Here soms belangrike waarhede oor en oor herhaal. Twee keer in Deuteronomium 24 herinner die Here die Israeliete dat hulle slawe in Egipte was en dat Hy hulle uit genade daar uitgelei het (Deuteronomium 24:18,22). Deur Moses het Hy aan hulle gesê: “Jy moet onthou dat jy in Egipte ’n slaaf was, en dat die Here jou God jou daaruit bevry het” (vs. 18). Omdat Hy hulle bevry het, het die Israeliete sekere verpligtinge gehad waaraan die Here hulle herinner het. Moses het gesê: “Ek beveel jou om al hierdie dinge te doen.” Wat was “ hierdie dinge”? Hulle moes na die armes omsien. Hulle moes sorg vir die “vreemdeling … weeskind … en weduwee” (vs. 19). Daarom het God hulle beveel, om wanneer hulle die lande afoes, iets agter te laat vir die weduwee en die weeskind. “Jy moet onthou dat jy in Egipte ’n slaaf was. Dit is waarom Ek jou beveel om al hierdie dinge te doen” (Deuteronomium 24:22). Ons is verlos deur die bloed van Jesus aan die kruis en sy opstanding uit die dood. Ons word herhaaldelik beveel om wat ons het met ander te deel. “Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dit is die offers wat vir God aanneemlik is” (Hebreërs 13:16)