Kort nadat ons getroud is, het ek gedink ek weet hoe om ’n kortpad na my vrou se hart te neem. Ek het een aand by die huis aangekom met ’n pragtige bos rooi rose agter my rug. Toe ek die blomme aan Martie gegee het, het sy my hartlik bedank, aan die rose geruik en die blomme toe na die kombuis geneem en in ’n blompot gesit. Dit was nie juis die reaksie wat ek verwag het nie! Dit was ’n inleidende les om my te laat verstaan dat blomme nie regtig my vrou se liefdestaal is nie. Terwyl sy my optrede waardeer het, het sy tog diep in haar hart gewonder hoeveel die blomme gekos het – en dit vir ’n jonggetroude egpaartjie wat maar sukkel om uit te kom. Deur die jare het ek ontdek dat Martie veel meer waarde heg aan my aandag en my tyd. Wanneer ek tyd neem om by haar te wees, dan weet sy dat ek haar regtig liefhet. Het jy al ooit gewonder hoe die Here wil hê dat ons ons liefde aan Hom moet toon? Die Bybel gee ons ’n belangrike leidraad. “Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê” (1 Johannes 4:21). Dis so eenvoudig! Een van die belangrikste maniere waarop ons ons liefde aan die Here kan toon, is deur ons broers en susters in die Here lief te hê. Wanneer ons mekaar opreg liefhet, is dit vir die Here ’n vreugde. Bly dus op die uitkyk vir geleenthede om vir Jesus te sê dat jy Hom liefhet. Hy is dit werd, ongeag wat dit van ons mag vra.