Net voor die afskop tydens Super Bowl XLIII het Kurt Warner van die Arizona Cardinals gehoor dat hy die Walter Payton NFL Man van die Jaar toekenning gewen het – ’n toekenning wat aan die speler gegee word wat die beste op die veld en van die veld af in gemeenskapsdiens presteer het. “Ek voel nederig en onwaardig om te dink dat die Here my so ’n besondere lewe gegun het, sodat ek ’n impak op ander kan hê,” het Payton, ’n toegewyde Christen, gesê. “Van al die toekennings wat die NFL aan atlete gee, is hierdie een myns insiens die uitstaande, vir wat dit verteenwoordig.” Dit verteenwoordig ’n selflose opoffering ter wille van ander. Om eer te betoon aan diegene wat dien, is nie iets nuuts nie. Paulus het daarvan gepraat toe hy die Filippense daaraan herinner het dat hulle diegene moet vereer wat hulleself in diens van Christus gegee het. Hy het hulle van hulle vriend Epafroditos vertel, wat byna gesterf het as gevolg van sy arbeid vir hulle (Filippense 2:30) en ander. Hoe moes hulle reageer? Paulus sê: “Ontvang hom met oop arms as ’n broer in die Here en bejeën manne soos hy met agting” (vs. 29). Ja waarlik, as ons dink aan diegene wat hulleself in diens van die Here opoffer moet ons hulle respekteer. Waarom soek jy nie geleenthede om aan diegene wat jou geestelik gehelp het dankbaarheid te betoon nie? Gee hulle die eer wat hulle verdien.