Die Here Jesus het ’n donkie gekies om Hom op sy triomftog Jerusalem in te neem. Sy dissipels is beveel om aan die mense te sê: “Die Here het hom nodig” (Markus 11:3). Is dit nie verbasend dat die Seun van God so ’n eenvoudige rytuig sou kies om sy doel te verwesenlik nie? Alexander Maclaren sê hieroor: “Christus kom na ons op eenvoudige wyse en verwerp al ons gemaklike verskonings. Hy sê: ‘Ek wil jou hê, en dis genoeg.’” Dink net daaraan! Die Skepper van die ganse heelal het ons nodig en wil ons graag in sy ewige plan gebruik. Alhoewel Hy almagtig en soewerein is en niemand nodig het nie, het Hy gekies om eenvoudige mense te gebruik om sy planne uit te voer. Indien dit nie so was nie, sou Hy ons dadelik na ons bekering hemel toe geneem het. Maar Hy het nie, want Hy het ons hier nodig. Iemand het eendag vir Francis van Assisi gevra hoe hy dit reggekry het om soveel tot stand te bring. Hy het geantwoord: “Miskien is dit die rede. Die Here het van die hemel na benede gekyk en gesê: ‘Waar kan Ek die swakste, onwaardigste man op aarde vind?’ Toe het Hy my raakgesien en gesê: ‘A, ek het hom gevind, Ek sal hom gebruik en deur hom werk en hy sal nie trots daarop wees nie. Hy sal besef dat Ek hom net gebruik omdat hy so onbelangrik is. ’” Ja, liewe Vriend, jy mag klein en onbelangrik in jou eie oë wees. Maar die Here het jou nodig.