Pastoor Dan Cummings was tot die dood toe moeg. Hy het kanker gehad en moes ’n baie streng diëet volg en dit het sy kragte uitgeput. Nadat hy vir twee weke in Texas behandeling ondergaan het, het hy uitgesien om huis toe te gaan na Michigan toe. In ’n brief op sy webwerf skryf hy: “Vandag voel ek baie beter … wonderlik wat hidrasie kan doen … Sal die naweek huis toe vlieg en behandeling tuis voortsit.” Dan het wel na Michigan teruggekeer, maar ’n paar dae later, was sy aardse lewe verby. Hy het huis toe gegaan om by sy God te wees – die God wat hy bo alles liefgehad het, liggaam, siel en gees. Toe ek ’n paar dae later weer na sy webwerf gekyk het en die woorde “vandag voel ek baie beter” gelees het, was dit asof dié woorde my opnuut getref het. Ek het deur my trane heen geglimlag, want inderdaad, die plek waar hy nou was, was “verreweg die beste” (Filippense 1:23). Eendag sal ons, wat die Here Jesus as Verlosser aangeneem het en getrou dien, na daardie wonderlike land toe gaan waar daar geen “ leed, smart en pyn” meer sal wees nie en waar ’n liefdevolle Vader belowe dat Hy “al die trane van hulle oë [sal] afdroog” (Openbaring 21:4). Wat ’n vooruitsig! Die lewe wat ons hier op aarde lewe, is nie al wat daar is nie. Daar is ’n baie, baie beter plek wat Jesus besig is om voor te berei vir diegene wat Hom liefhet (Johannes 14:2,3). –