Een van my geliefkoosde strokiesverhale is getitel: Superman in sy latere jare.” Dit wys die bejaarde Man van Staal waar hy hoog in die lug in ’n versterbank sit, gereed om te spring. Dan kyk hy skielik om en vra: “Waarheen wou ek gegaan het?” Ja, ons almal begin een of ander tyd vergeet en alhoewel dit soms komies of selfs irriterend kan wees, is dit gevaarlik as ons die Here begin vergeet. Toe die volk van God gereed was om die Beloofde Land binne te gaan, het Moses ’n uitdaging aan hulle gerig: “Onthou hoe die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het” (Deuteronomium 8:2). Hy voeg toe die waarskuwing by: “Sorg dat jy nie die Here jou God vergeet deurdat jy nie gehoorsaam is aan sy gebooie en bepalings … nie” (Deut. 8:11). Verskillende situasies kan daartoe lei dat ons God vergeet: Toetsing (vs. 2-4). God het toegelaat dat sy kinders hongerly en toe het Hy manna voorsien. Wanneer ons die basiese lewensbehoeftes nie het nie, dink ons dat God ons vergeet het. Selftevredenheid: (vs. 10-11). Oorvloed of behoefte kan geestelike geheueverlies veroorsaak, want albei toestande dwing ons om op onsself te fokus. Hoogmoed: (vs.12-16). As voorspoed ons selfversekerd maak, kan ons God vergeet. Nederigheid, gehoorsaamheid en lofprysing help ons om te onthou hoe getrou God vir ons sorg. Moenie vergeet om Hom vir alles te dank nie.