Ek en Martie het onlangs verskeie groot wêreldstede besoek en ons is diep getref deur die toestand van die wêreld. Daar is letterlik miljoene mense wat nog nooit van Jesus en sy reddende genade gehoor het nie. Die gedagte om die wêreld vir Christus te bereik, het meteens vir ons onmoontlik gevoel. Maar toe het ek die storie van die seuntjie op die strand, onthou. Daar het honderde seesterre op die strand gelê, sterwende vanweë die hitte van die son. Hy het begin om hulle een vir een in die see terug te gooi. ’n Verbyganger vra hom toe: “Wat doen jy?” “Ek red die seesterre” antwoord hy. “Vergeet dit,” sê die man. “Jy kan onmoontlik al die seesterre red.” “Ja,” antwoord die seun, “maar dit maak ’n groot verskil vir elkeen wat ek wel kan red.” Ek hou baie van die seun se siening. Toe die reuse brander van sonde ons op die strand uitgewerp het om te sterf, het God sy Seun gestuur om op die strand te stap en almal wat Hom aanneem, te red. Jesus het aan sy luisteraars gesê dat daar groot blydskap in die hemel is oor elkeen wat gered word: “Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en bekering nie nodig het nie” (Lukas 15:7). Is daar al in die hemel oor jou redding feesgevier? Indien wel, sluit aan by diegene wat besig is om verlore siele na Jesus te lei. –