Jill Price het ’n buitengewone geheue gehad, soveel so dat selfs wetenskaplikes deur haar vermoë verbyster was. In 2006 het ’n wetenskaplike joernaal van haar oorontwikkelde geheue melding gemaak: A Case of Unusual Autobiographical Remembering. Price besit nie ’n spesiale gawe om woordelyste, nommers, feite of tale te memoriseer nie. Maar sy kan onthou wat op elke spesifieke dag die afgelope 30 jaar in haar lewe gebeur het. Noem enige datum en Price sal jou sê watter dag van die week dit was, hoe die weer was, wat sy vir ontbyt geëet het, watter TV programme sy gekyk het en met wie sy gepraat het. Daar is min van ons wat so ’n geheue het. Daarom het ons aanmanings nodig sodat ons take kan afhandel en ons afsprake kan nakom. Dis veral waar as dit by geestelike sake kom. Petrus het geweet geestelike aanmanings of herinnerings is nodig en daarom skryf hy: “Om hierdie rede sal ek julle altyd aan hierdie dinge herinner, al weet julle dit … ek ag dit immers my plig om julle aan te spoor [en] te herinner … Daarom sal ek my daarvoor beywer dat julle ook ná my heengaan altyd hierdie dinge sal onthou” (2 Petrus 1:12-15). Maak nie saak hoe goed of swak ons geheue is nie, ons moet voortdurend aan Bybelse beginsels herinner word. Daaglikse Bybelstudie, kleingroepe en inskakeling in jou gemeente kan jou help om belangrike waarhede te onthou.