Ek het ’n gesprek met ’n aantal kinders gevoer oor God en magtige helde toe Tobias skielik ’n vraag gestel het. Die intelligente, weetgierige vyfjarige seun het die vraag gestel aan enigeen wat wou luister: “Het God ook ’n spesiale helper soos Hercules?” Sy ouer broer van sewe, wat al ’n bietjie wyser was, het vinnig geantwoord: “Ja, Hy het duisende van hulle – sy engele!” Mense gesels graag oor engele en baie mense glo allerhande mites aangaande hulle. So is daar mense wat tot engele bid en glo dat hulle op dieselfde vlak as God is. Ander glo dat mense engele word wanneer hulle doodgaan. Maar hier volg ’n paar feite wat die Bybel ons leer: God het die engele geskep (Kolossense 1:15-17). Engele aanbid God (Nehemia 9:6) en word soms “aartsengele” (Judas 1:9), “gerubs” (2 Konings 19:15) en “serafs” (Jesaja 6:1-3) genoem. Hulle bedien God se kinders (Hebreërs 1:13-14) en beskerm hulle (Psalm 91:9-12). Hulle ontvang spesiale opdragte van God (Matteus 1:20 en Lukas 1:26). God se engele jubel wanneer ons ons sondes bely en tot bekering kom sodat ons gered kan word ( Lukas 15:7,10). Slegs die Here God verdien ons lofprysing en aanbidding. Ons mag nie engele of ander hemelwesens aanbid nie. Kom ons sluit aan by die engele en loof en prys ons hemelse Vader, ons magtige God.