Leslie en haar twee dogters sou binnekort uit hulle huis uitgesit word. Alhoewel Leslie geglo het God kon help, het Hy sover nog geen teken gegee van hoe Hy sou ingryp nie. Sy het verdwaas gewonder: Waar is God? Terwyl sy na die hofsaal gery het, het sy steeds gebid dat die Here sou ingryp. Toe hoor sy skielik ’n lied oor die motor se radio: “God is hier! Laat die gebrokenes van hart juig!” Kon dit die versekering van God wees dat Hy sou ingryp? In die hofsaal het Leslie voor die regter gestaan, sy besluit verneem, die dokumente onderteken, maar steeds het die Here nog nie aan haar ’n antwoord gegee nie. Toe Leslie verslae na haar motor gestap het, het ’n bakkie langs haar stilgehou: “Mevrou,” het die bestuurder gesê, “ek het jou getuienis in die hof gehoor en ek glo die Here wil hê ek moet jou help.” En hy het. Gary het Leslie gehelp om met ’n dame van die plaaslike gemeente in aanraking te kom en sy het met die verskillende partye onderhandel sodat die hele proses hersien is en Leslie en haar dogters eindelik toegelaat is om in hulle huis aan te bly. Wanneer mense vra: “Waar is God?” dan is die antwoord: “Reg langs jou!” Een manier is om deur Christene soos Gary te werk – hulle wat die werk wat Jesus begin het, hier op aarde voortsit, deur “gebrokenes van hart [te genees] en … hulle wonde [te verbind]” (Psalm 147:3).