Toe ek ’n tiener was, het my pa, ooms, neefs en ek forelle gaan vang in die waters van die Sacramento rivier in Kalifornië. Die bron van die rivier se waters is gesmelte sneeu, daarom is dit skoon, koud en verfrissend. My neefs en ek kon nie die versoeking weerstaan om in die koue water te staan terwyl ons visgevang het nie. Onderweg huis toe het ons by ’n ander dam stilgehou. Die water was warm en stagnant en het ’n onaangename reuk afgegee. Die kontras tussen daardie dam en die snelvloeiende rivier was groot. Die profeet Amos gebruik die beeld van ’n snelvloeiende rivier om aan te toon hoedat geregtigheid ’n mens en jou lewe kan verander. Amos was diep geskok deur Israel se dooie godsdiens en hulle rituele en die uitbuiting van armes (Amos 2:6-8; 5:21-27). Hy het ’n dringende oproep gedoen dat geregtigheid moes seëvier. Hy het gesien dat God se mense as’t ware in ’n stagnante poel van ongeregtigheid teenoor ander vasgevang was. Wat hulle nodig gehad het, was ’n lewe gekenmerk deur geregtigheid soos “’n standhoudende stroom.” Net so verlang God ook dat geregtigheid soos water van ons sal afrol. Een wyse waarop dit gebeur is deur te strewe na geregtigheid, dat regverdige wette ingestel word en om na armes om te sien. Mag ons daarna streef om deel uit te maak van God se magtige stroom van geregtigheid, totdat Jesus terugkeer.